Die kommune of commune (Franse uitspraak: [kɔmyn] ( )) is 'n administratiewe afdelingsvlak in die Franse Republiek. Franse kommunes is soortgelyk aan munisipaliteite in Suid-Afrika, gemeinden in Duitsland, comuni in Italië, gemeentes in Nederland of municipios in Spanje. Die ekwivalent in die Verenigde Koninkryk is die administratiewe parogie. Die kommune is gebaseer op historiese geografiese gemeenskappe of dorpe, en is beklee met beduidende magte om die bevolkings en grond van die geografiese gebied te bestuur. Die kommune is die vierde administratiewe afdelingsvlak van Frankryk.
Kommunes verskil beduidend wat grootte en area betref; van groot uitgestrekte stede met miljoene inwoners soos Parys, tot klein gehuggies met slegs 'n handvol inwoners. 'n Kommune is tipies gebaseer op 'n voorafbestaande dorp en fasiliteer plaaslike bestuur. Alle kommunes beskik oor name, maar nie alle benoemde geografiese areas of groepe mense wat saam woon is kommunes ("lieu dit" of "bourg") nie. Die verskil lê in die gebrek aan administratiewe magte.
Behalwe vir die munisipale of kommunale arrondissemente[1] van Frankryk se grootste stede, is die kommune die laagste administrasievlak in Frankryk en word dit bestuur deur verkose beamptes soos 'n burgemeester (maire) en 'n munisipale raad (conseil municipal). Die rade beskik oor uitgebreide outonome magte om nasionale beleid te implementeer.